Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL nuus Sondag 25 Mei 2014

Goeiemore en welkom, jy luister na ZS6SRL die amptelike stem van die Suid Arikaanse Radio liga. Jy kan nou luister na ons weeklikse nuus uitsending gelees deur ________________________ (naam, roepsein en QTH waar toepaslik). Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 plaaslike tyd 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 plaaslike tyd in Engels uit op HF en verskeie BHF en UHF herhalers landswyd. Vir Echolink luisteraars is daar ‘n herleiding deur ZS0JPL

Hierdie oudio bulletin kan afgelaai word vanaf die SARL se webblad by www.sarl.org.za ‘n Teksweergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook van hierdie webblad afgelaai word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e pos te ontvang.

Let asb daarop dat alle web en epos adresse slegs in die gedrukte weergawe van die bulletin sal verskyn en nie tydens die oudio nuus gelees sal word nie.

Hooftrekke

Bloemfontein is die gasheer vir die 2015 AJV

5MHz aktiwiteitsnaweek lewer heelwat verassings op

QRZ.com kry meer funksionaliteit

en heelwat nuus vanaf die radio liga

Bly ingeskakel vir hierdie en ook ander interessante nuus items

== Die Bloemfontein amateurradio klub tree in 2015 op as die gasheer vir die SARL se algemene jaarvergadering wat gehou word tydens die naweek van 17 tot 19 April 2015. Alhoewel dit nog ‘n rukkie is voor ons daar kom is dit raadsaam om nou al ‘n aantekening op jou jaarbeplanner te maak vir hierdie belangrike geleentheid. Die Bloemfontein manne het reeds ‘n stewige reputasie opgebou tydens die vorige AJV wat daar aangebied is in 2008 toe van die hoogtepunte ‘n besoek aan die Boyden sterrewag en ook die dinee wat by oud President Steyn se woning aangebied was.

Met hierdie tipe verwysings is dit amper ‘n gegewe dat volgende jaar se AJV iets besonders gaan wees.

== Die 5MHz aktiwiteit naweek het in sy doel geslaag en ook ‘n paar interessante verassings opgelewer. Die eerste analise van die WSPR verslae dui op baie interesante seinvoortplanting inligting. Luister vanmore om 10:00 na Amateur Radio Today waartydens Stuart Moss sal gesels oor die ZS6KTS baken . Intussen kom daar steeds logstate vir die pret gedeelte van die naweek in en sal die finale uitslae eers teen volgende week beskikbaar wees. Luister volgende week na SARL nuus om meer uit te vind.

Aan die internasionale front:

== Die QRZ.com webblad het heelwat funksionaliteit bygekry. Die webblad, en meer in besonder die databasis maak nou voorsiening vir sekondêre roepseine, dit is roepseine met ‘n skuinsstreep en of voor of agtervoegsel aangeheg.

Nog ‘n verandering is die feit dat die databasis nou ook aanpasbaar is met ander dienste soos Logboek van die wêreld. Dus kan QSO’s nou direk na dié dienste aangestuur word en hoef dit nie meer per hand ingesleutel te word nie.

** Jy is ingeskakel op ‘n nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radio liga en ons gaan nou voort nuus vanaf die Radio Liga.

== Aansoeke om SARL lidmaatskap is van die volgende persone ontvang
Willem Johannes Stevenson, ZSL1104;
Johannes Andries Scheepers, ZSL1105; en
Sarel du Plessis, ZSL1106.
Enige besware teen die aanvaarding van hierdie aansoeke moet die sekretaris teen eerskomende Dinsdag bereik. Die SARL ledetal is tans 1730

== Terwyl ons so van lidmaatskap praat, die SARL bied steeds aan nuwe lede die geleentheid om nou aan te sluit en die tydperk tot en met die einde van die finansiële boekjaar gratis te ontvang. Dit wil sê dat indien jy nou aansluit by die SARL dan ontvang jy die oorblywende gedeelte van Mei asook die hele Junie maand gratis en betaal slegs vir die jaar 2014/2015

Om sake nog meer aanloklik te maak kan jy jou lidmaatskap in 4 maandelikse betalings doen. Hierdie vergunning is vir diegene wat nie die volle R 430.00 kan bybring nie. Indien jy in hierdie besondere aanbod belangstel kan jy met die kantoor administrateur skakel vir meer inligting. Die epos adres is beskikbaar in die gedrukte weergawe van hierdie nuusuitsending

== SARL@HOME wat op 7 Junie by die Nasionale Amateurradio Sentrum aangebied word bekyk oppervlak gemonteerde komponente en hoe mens met hierdie klein wonder van die elektroniese eeu werk. Sluit aan by Frik Wolf ZS6FZ om meer oor hierdie besondere onderwerp te wete te kom. Bespreek nou jou plek deur ‘n draai op die liga se webblad te maak en die skakels van die tuisblad af te volg

== Die eerste SARL Radio Tegnologie in Aksie simposium word Saterdag 21 Junie by die Universiteit van Kwa Zulu Natal aangebied. Daar word oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe gepraat en heelwat hiervan word ook deur praktiese demonstrasies toegelig.

Vind die volledige program asook intekenvorms op die SARL se webblad, kies die Radio Tegnologie in Aksie skakel aan die linkerkant van die tuisblad of versoek dat die inligting per e pos aan jou gestuur word deur bloot ‘n epos aan die organiseerders te stuur. Plaas RTA Durban in die onderwerplyn van jou e pos

== Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 31 Mei 2014 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting skakel, Geoff ZS6C 082 546 5546.
.
Kompetisie nuus
== Uit die voorlopige uitslae van die 2013 ARRL 10 meter kompetisie blyk dit dat ZS9C die uitblinker was in die multioperateur lae krag afdeling vir Afrika. Die stasie is tans 7de op die ranglys van die top tien multi operateur lae krag stasie vir DX en algeheel 12de in die wêreldwye ranglys vir dieselfde kategorie. Baie geluk aan Karel ZS6WN en sy span.

== So bietjie nuus vanaf die SARL se Digitale wedstryd. Die doel van hierdie geleentheid is om soveel moontlik kontak te maak tussen Amateurs in Suider Afrika op PSK 31 en RTD. Die geleentheid is oop vir alle radio amateurs binne Suider Afrika.
Neem deel tussen 13:00 UTC en 16:00 UTC vanmiddag, 25 Mei 2014. Aktiwiteit vind plaas op 80, 40 en 20 meter

Jy mag twee maal kontak maak met ‘n stasie een keer op PSK en eenkeer met RTD. Uitruiling is ‘n seinverslag en ook ‘n reeksnommer wat begin met die telling 001. Stuur jou logstate na die kompetisie koördineerder.

== Die CQ WPX Gelyk Golf kompetisie loop vanaand 00;00 UTC ten einde. Die uitruiling is ‘n RST en reeksnommer. Neem deel op 160 tot 10 meter.

== Gedurende Junie is daar heelwat geleenthede om aan deel te neem. Die 8ste Junie is dit weereens tyd vir die ZS4Naelloop tussen 14:00 en 15:00 UTC en dan is daar ook nog die SARL Top Band QSO partytjie wat tussen Middernag UTC op 19 Junie tot Middernag UTC 23 Junie.

HF Voortplanting voorspelling

== Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Nuwe Sonvlek AR2071 het 'n "beta-gamma" magneetveld wat genoeg energie huisves vir M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 45.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees.

Besoek gerus die SANSA webtuiste vir meer inligting.
.

Dagboek van gebeure

25 Mei die SARL digitale kompetisie tussen 15:00 en 18:00 plaaslike tyd, vind meer uit in die 2014 kompetiesie handleiding
31 Mei is dit weer tyd vir die Wesrand amateurradio klub se vlooimark by hul klubhuis in Krotonstraat Weltevredenpark
7 & 8 Junie Die IARU Streek 1 Gelykgolf veld dag.
07 Junie SARL@Home By die NARS.
08 JunieZS4 Naelloop.
19 – 22 Junie SARL top band QSO partytjie.

== Ons sluit die week se nuus af met ‘n terugblik op die hoofstorie: Die Bloemfontein amateurradio klub tree in 2015 op as die gasheer vir die SARL se algemene jaarvergadering wat gehou word tydens die naweek van 17 tot 19 April 2015. Alhoewel dit nog ‘n rukkie is voor ons daar kom is dit raadsaam om nou al ‘n aantekening op jou jaarbeplanner te maak vir hierdie belangrike geleentheid..

Dit bring ons dan aan die einde van hierdie Suid-Afrikaanse Radioliga nuusbulletin, vind meer uit oor hierdie en ander nuus deur die SARL se webtuiste te besoek.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz 'n potgooi deur Dick, ZS6RO en herleiding op verskeieBHF en UHF frekwensies regoor die land
'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 3 230 kHz plaas.
Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za.
Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL se nuusdiens nooi klubs en individue om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op die webtuiste onder die newsinbox skakel nie later as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan nie.

Ons benodig ook voortdurend die dienste van bekwame nuusopstellers, vertalers en proeflesers. Indien jy kan behulpsaam wees met van hierdie take kontak asseblief die sekretaris van die SARL via epos
En daarmee kom ons aan die einde van hierdie nuusuitsending van die Suid Afrikaanse Radio Liga saamgestel en geredigeer deur Dawie Conradie ZR6DHC

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou 'n mooi week toe. Totsiens

Webtuistes en epos adresse genoem in hierdie bulletin:

SARL webtuiste www.sarl.org.za
SARL Newsinbox www.sarl.org.za/newsinbox.asp
RTA epos adress rta@sarl.org.za
SARL Kantoor admin admin@sarl.org.za
SARL Digitale komp. contest@sarl.org.za
SANSA Webtuiste spaceweather.sansa.org.za
SARL Sekretaris secretary@sarl.org.za




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003